Mamma, wees trots op my
- Afrikaans -
Mamma,
Wees nie teleurgesteld in my
al was ek altyd ma se swart skaap kind
Ek dra ‘n groot seerkry in my
Wees asseblief trots op my
Want mamma,
elke keer as die lewe my laat val
het ek weer opgestaan
selfs al sou ek liewer wil bly lê
Steeds neem ek die verkeerde afdraaipad
wat elke keer weer eindig in ‘n doodloopstraat
Ek is moeg, mamma,
Moeg gestry,
Moeg van al die doodloopstrate,
Te moeg om elke keer weer om te draai
My bagasie is swaar
Ek sleep dit agter my aan
Ek sukkel met my lyf
Maar ek sal weer opstaan
Teruggaan na die grootpad
Gaan soek na die afdraaipad
wat my eindelik geluk sal bring
Ek sal nie bly lê waar
die lewe my laat val het nie, mamma
Ek sal aanhou stry
Mamma, wees asseblief trots op my
Miskien kan ek leer om myself ook lief te kry