Leiden – Stad van my geliefde
- Afrikaans –
Op ‘n dag het ek terug gegaan
Leiden, geliefde stad
Stad van my geliefde
Warm jas, hande in my sakke
Loop ek doelloos,
langsaam
langs kanale, oor bruggies,
deur stegies en winkelstrate
En ek hoop dat miskien
ek jou êrens
tussen al die mense weer sal sien
In my gedagte
die herinneringe tevoorskyn getoor
Ek, laggend agter op jou fiets
Die wind in my hare
My arms om jou lyf
Ek onthou nog die geur
van leer en after-shave
Ek loop verby die Burcht
De Bruine Boon,
daar waar ons eerste afspraak was
Ek proe weer die smaak van
Belgiese bier in de Stadthouder Café
Van ‘n “broodje haring” op die mark
En ek sien hoe jy liefdevol na my kyk
Nooit het jy geweet hoe lief ek jou het
Ek was trots, ek het ontken,
want jy was my beste vriend,
Al was jy eers verlief op my
Te laat,
te laat het ek jou ook lief gekry
Skielik voel ek so alleen
terwyl dit van mense om my wemel
Slaan my oë op na ‘n bewolkte hemel
Koue reën en trane van verlange
vermeng tot riviertjies oor my wange
En ek vra:
Waarom? Waarom nou?
Ek draai om
om weer huis toe te gaan
Want Leiden, geliefde stad
Stad van my geliefde
Was leeg,
So ontsettend leeg
Sonder jou